LIGGING
In 'n landstreek wat bekend is vir sy majestieuse berge, oorvloedige somerson, oer-oue eikebome en snerpende sneeuwinters, lê De Compagnie Wynlandgoed in die historiese Val du Charron, die Wamakersvallei.
Die landgoed van 27 hektaar lê knus weggesteek in die nou vallei tussen die hange van die Hawekwa Bergreeks en Groenberg. De Compagnie is geleë op die Bovlei-roete, 5km buite die skilderagtige dorpie Wellington.
GESKIEDENIS
Vir bykans drie eeue word daar op De Compagnie geboer en wyn gemaak. In 1705 het die Verenigde Oost-Indische Compagnie die plaas Rustenburg toegeken aan Jan Laurense van Rostok. Volgens die voorskrifte van die VOC moes Van Rostok koring en eikebome aanplant en met vee boer.
In Februarie 2002 het Johann Loubser en Riana Scheepers die plaas oorgeneem. Om saam te val met die 400-jarige herdenking van die VOC se ontstaan in 1602, is die plaas herdoop na De Compagnie. Johann en Riana het dadelik begin met die liefdevolle proses van restourasie aan die pragtige 1795-opstal en die opknapping en uitbreiding van die bestaande wingerde.